Oorweldig!
Soms voel dit of die lewe en sy uitdagings mens oorweldig.
Die afgelope week het meer as een mens vir my gesê dat hul so ietwat oorweldig voel, ek dink dit is normaal om so te voel gegewe die laaste covid jaar.
Ons lewens het dramaties verander en die wêreld sal nooit weer dieselfde wees nie.
Dit laat my met nadenke en ek top ʼn paar dae hieroor.
So baie mense leef van dag tot dag, met die fokus om vandag deur te maak met die hoop en geloof dat die sin more sal skyn.
Hoe eet mens ʼn olifant? stukkie vir stukkie, sê hulle.
Een ding op ʼn slag en elke ding op sy tyd.
Maar dit is in ons natuur om klomp goed op een slag te wil doen met die resultaat dat mens ʼn paar goed nalaat.
Ek dink dit filter dalk deur van ons onvermoë om soms met net dit wat ons het tevrede te wees, ons soek altyd meer.
Fokus, geduld en deursettingsvermoë dink ek is die antwoord.
ʼn Resies perd het oogklappe aan wat hom dwing om net op die nou en dit wat onmiddellik moet gebeur te fokus, natuurlik kan hy net met oogklappe aan funksioneer tydens die resies.
Sou die perd die heeltyd oogklappe dra, gaan hy homself inperk en veroorsaak sy nougesette fokus weer ander probleme, en kyk hy die wêreld om hom mis.
Ek dink aan ons matrieks wat voel dat hul eindeksamen soos ʼn berg voor hul lê, dit word so maklik om op net die hoogte en steilte van die berg te fokus in plaas van die uitklim van die berg.
Wat ek wel weet is dat die lewe met sy uitdagings nie maklik is nie.
Iemand het eendag gesê, keep it simple , stupid.
Miskien is dit so eenvoudig, ons oorkompliseer alles, fokus meer op die probleem as die oplossing en maak onsself negatief.
Gereeld het ons massiewe uitdagings wat voor ons lê, en tog na die tyd sal ons gereeld onsself daaraan herinner dat ons nie regtig weet hoe nie, maar ons het daar deur gekom.
Hou kop, wees realisties, bly gefokus en gee net jou beste.
Saam die glo in jouself en die wete dat jy alles gegee het, is dit genoeg.
Vind jou genoegdoening in jouself en nie in die aanvaarding van die mense om jou nie!