Title Image

Blog

STORMS, STILTES, KALMTES EN DIE SON SE GROET

Soms kom die storms van menswees op ʼn sagte manier in jou lewe in en soms soos ʼn sikloon.

Die onweer, wind, grys wolke en donderweer is die storm-boodskapper.
Die boodskapper wat jou ʼn kans en waarskuwing gee van wat oppad is.

Sou jy gehoor gee, berei jy voor op die storm.
Maak geute skoon, sorg dat jou huis se dakke nie lek nie, maak jou vensters toe, sluit jou deure en maak seker dat dit wat vir jou kosbaar is, veilig is.

Dit is eers as die storm begin woed dat jy weet of jou pogings goed genoeg was.

Sodra die storm verby is en die son sy kop uitsteek, bepaal jy die skade.

Net so ervaar baie van ons die lewe.
Die konstante is dat die storm hom wel uitwoed en die son weer skyn soos hy moet.

Die mag van die storm maak ons bang, onseker en nederig.
Ons raak bewus van God se almag en skeppingskrag as ons in die oog van die storm vasgevang word.
Ons onvermoë om God in die storm raak te sien en nie te deel maak van ons voorbereiding, maak die storm vreesaanjaend.

Dan is daar die stiltes, kort stiltes wat soos ʼn ewigeheid voel.
Amper soos God se asem.
Die stilte voor en na die storm.
Stiltes wat die storm verwelkom en groet.

Twee stiltes en kalmtes wat twee uiterstes vooraf volg.
Miskien moet ons meer die stiltes en die kalmtes tydens die uiterstes van ons lewens soek en probeer vind, want dit is daar.
Dit gee ons tyd om voor te berei en te reflekteer en met nuwe insig die son se groet in te stap.

Here, dankie vir die stilte voor en na die storm, dankie vir U asem.
Help en leer ons om U te soek en te vind in beide die stiltes en kalmtes.
Sodat ons U sal raaksien tydens die storms in ons lewens.

Dra en wees by ons as ons voorberei vir die storms en gee ons insig en wysheid as ons na die storms die impak moet bepaal.

Seën ons as die son weer skyn en versterk ons geloof vir dit wat na die storms op ons wag.

In U lig en teenwoordigheid wil ons die na-storms instap en die nuut ervaar wat die lewe ons bied.

Want U is God, die Skepper van die storms, stiltes, kalmtes en die son se nuwe groet.

POST A COMMENT