TELEURSTELLING
Teleurstelling kom in baie vorme en gesigte na jou toe.
Beloftes, verhoudings, werk situasies, teleurstelling in jouself en so gaan die lysie aan. Almal mens gemaak.
Soos ʼn yskoue emmer water wat oor jou kop uitgegooi word, oorval die koue skok van teleurstelling jou.
Jou asem soek koers en dit voel of jy in Antarktika wakker skrik, ʼn koue plek wat jou siel laat bewe en jou gees laat regop sit.
Die dag as jy besef dat teleurstelling net soos hoop eintlik maar deel is van die lewe se emosie-skaal, dan begin jy teen dit waak.
Jy raak versigtig in wie jy jou hoop sit, wie wat vir jou sê en wat jy glo.
Vir sommiges is teleurstelling ʼn wipplank rit en vir ander meer ʼn onophoudelike roller coaster ride.
Mense praat, sê en belowe vinnig op die ingewing van die oomblik dinge, soms sonder om te dink.
Dit het net so maklik geword om net goed te sê en beloftes te maak, juis omdat soveel mense met en in hoop leef van dag tot dag.
Daarmee saam word hoop dan meer van ʼn wag en sien situasie, later word die spreekwoord “sien is glo” ʼn realiteit en lewensuitkyk.
Hoekom skryf ek hier oor, omdat ek elke dag met mense praat wat dit deurgaan en vir wie teleurstelling ʼn berg van brandende hoop geword het.
Miskien moet ons soms net onsself meer in ander se skoene plaas, hul emosionele sokkies aan trek.
Daai sokkies is mos ʼn one fit all sokkie.
Hy word nie vuil nie, en as hy ʼn kaal voet sien, trek hy homself aan.
Daarmee saam moet ons besef dat mense se hoop en verwagtinge soms meer belangrik is as ons vinnige vermoë om valse hoop en teleurstelling te skep.
Ongelukkig is dit nie net valse beloftes, hoop en woorde wat die teleurstelling monster vlerke gee nie, maar ook ons dade.
So waak maar met die doen en late ook.
Mag elkeen wat se berg van hoop dalk brand of nog smeul, aanhou met glo, moedhou en vasbyt.
As jou hoop en geloof in mense min of opraak, weet dat God die heel tyd daar is.
Dit verander nie altyd jou situasie in ʼn oogwink nie, maar bring ʼn gerustheid en kalmte as jy werklik glo.
Soms besef ek as ek terug kyk na situasies, dat God net vir ons wag om ons hoop na geloof in Hom toe te verander.
Om geduldig te wees, te wag en aan te gou glo en te doen.