
THE REAL HOUSEWIFES VAN PRETORIA – “HUISWYFIES VAN PRETORIA”
Ek skryf nie graag oor kontroversiële onderwerpe nie, maar so baie het al my opinie oor “The real housewifes van Pretoria” gevra, dat ek wel besluit het om tog my denke te deel.
As die Huiswyfies van Pretoria ʼn eerlike en opregte weergawe en refleksie is van ware vrouwees, moet ek eerlik sê is ek totaal verward.
As roem en rykdom jou laat daal tot op vlak waar jy as vrou dit wat mooi is verskans in ʼn oppervlakkige weergawe van jouself, voel ek jy het jouself verloor.
Bestaan daar werklik sulke vrouens wat hul waardestel en alles wat hul is laat definieer deur hul onvergenoegdheid aan aardse besittings en die onvermoë om die mooi in ʼn ander vrou raak te sien.
Is die onophoudelike vergelyking van hul voorkoms, kleredrag, die waarde van besittings, kos, drankies en ʼn mentaliteit van verhewenheid bo enige ander vrou, deel van vroulike status?
Die slim mense sê dat geld nie styl en klas kan koop nie, en indien jy dit probeer koop laat jou onvermoë om dit deel van jou ware menswees te maak jou in die steek, soos met van die huiswyfies.
Maar hoe gemaak as jy soos van die Hiëna dames werklik glo dat jy klas het en stylvol is, en jy eintlik in die oë van die wêreld die teenoorgestelde blywende persepsie skep.
Hoe is dit moontlik om so ʼn valse beeld van jou self aan die wêreld weer te gee of te verkoop, of is dit ʼn ware weergawe van wie jy is?
Moontlik is dit ʼn soeke na aanvaarding en ʼn oordrewe passie om jouself aan dit wat jou die seerste in die lewe gemaak het te bewys.
Is jy werklik ʼn Hiëna of eerder muis wat in ʼn paleis woon en die kaas ʼn bitter smaak gee.
Natuurlik skeer ek nie al die dames oor een kam nie, maar verseker sal elke leser self kan onderskei wie die Gouelokkies is vir wie die skoen pas en wie die hiëna wyfie is wat hap na alles wat ʼn reuk van aardsheid het.
Marie Bosman, se deelname is vir my die een onverstaanbare goue stukkie in die legkaart wat soek bly, tog bring sy die skeidslyn tussen fiksie en realiteit, opregtheid en die soeke na die waarheid.
Nee wat huiswyfies, die wêreld van ware vrou wees, is nie te koop nie, dit is beskore vir die wat hulself reeds gevind het binne die kompleksiteit van vrouwees.
My een SêNet Gedagte van 25 Oktober 2022 som dit vir my mooi op:
Published by Eddie Coetzee SêNet · 25 October ·
SêNet Gedagte:
ʼn Vrou se mooiheid word vasgevang in haar menswees en uitgestraal deur haar hart, sy moet versigtig wees dat ʼn obsessie met haar liggaam dit nie bepaal nie.
n Hart is onsigbaar diep weggebêre binne die mooiheid van haar menswees, voorkoms is uiterlik en kan maklik oppervlakkig gemanipuleer word.
Kopiereg:SêNet
Kom ons glo dit is alles net ʼn “act” om kykers te lok deur skeppende drama vir ʼn kontroversiële televisie program.
Ek sal baie graag die vroue daar buite se kommentaar en opinies wil hoor asb, veral ons dames van Pretoria!!