Title Image

Blog

VASBYT EN MOEDHOU

Vasbyt en moedhou is twee woorde van advies wat ons maklik vir ander gee, veral as dit met ons goed gaan.

 

Ons kyk terug op die moeilike en minder beter tye in ons lewe.

In verwondering en ongeloof weet ons dikwels nie hoe ons deur en oor die berge en afgronde is nie.

 

Met skrape en wonde is ons lewendig deur dit, “We live to tell the tale”.

 

Om op moedverloor se vlakte gestrand te wees en te weet dit is waar jy vir nou eers ʼn tuiste het, is nie maklik nie.

 

Ons almal verskil, elkeen se vermoë om spanning en die onophoudelike “curveballs” wat die lewe gooi te hanteer, bring iets anders in almal uit.

 

Sekere mense keer in hulself, raak stil en trek terug in hul dop.

Ander baklei en skel, sommiges soek antwoorde en uitkoms in ʼn bottel, terwyl ander op hul knee bly.

 

Natuurlik is daar meer en ook minder belangrike goed om oor te stres.

Soms neem ons al die klein minder belangrike goed waaraan ons in elk geval niks kan doen nie en dra dit soos ʼn pragtige pêrel-halssnoer om ons nek.

 

Die wêreld se pêrels van kommer wat blink bly totdat jy verdrink.

 

Elke dag se nuwe byvoeging van ʼn bekommer-pêrel trek jou af, elke millimeter voel soos ʼn meter as jy afsak die dieptes in, tot op die bodem van die donker see.

 

Kyk jy op is daar lig, lig wat die rigting na bo aandui, op na die son van uitkoms.

Die konstante vir my is God en gebed.

Daar sal baie wees wat sê dat hy of sy al ʼn ewigheid bid oor en vir sekere goed en niks gebeur nie.

 

Natuurlik is die vraag waarvoor moet jy bid?

Moontlik wag jy vir ʼn wonderwerk, of sien jy die nuwe uitdagings en struikelblokke ook as deel van God se antwoord op jou gebed?.

 

Miskien raak ons blind vir die seëninge wat ons wel het.

Moontlik is dit juis hoekom God ons op ons knee hou en wil hê ons moet Sy hand vas hou en aanhou bid en glo.

 

Moontlik fokus ons so sterk op die uitkoms van die probleem en wat ons sien as die oplossing, dat ons God se oplossings mis kyk.

 

Die vraag is, glo ons, glo ons werklik genoeg dat dit ons help om die worries van die lewe se werklike waarde tussen die mooi van dit wat ons het raak te sien?.

 

Miskien vra jy vandag vir iets of wag jy vir iets wat jy absoluut glo jy moet nou hê of selfs verdien.

 

Miskien glo jy dit gaan jou ʼn beter mens of gelukkiger maak as jy dit ontvang, net omdat jy dit dan het.

 

Soos ʼn kind wat tussen die “sweets” rakke in ʼn winkel iets moet kies, hy raak en voel aan een, tel op en sit neer.

As jy mooi kyk kan jy sien hoe hy die smaak van dit wat hy vashou ervaar.

 

Tog moet hy êrens ʼn keuse maak en dit wat hy gekies het aanvaar as dit wat hy wil hê.

 

Feit is die kind wou ʼn “sweetie” hê, maar moet dit ʼn toffie of sjokolade wees.

 

Ek het nie die antwoorde nie, maar is dankbaar dat ek God kan ervaar in die goeie en slegte tye.

POST A COMMENT