
VERLANGE
Verlange gebind met die emosie van ware omgee en opregte liefde los ʼn leegheid binne die diepste deel van ons menswees.
Waar mis en ʼn soeke na dit weg en verby is, ʼn ewige realiteit word en herinneringe die leegheid tydelik vul.
Dis die hoop en wag op weersiens wat die koebaai lank maak.
Waar die mooi van wat was, die seer meer maak en vrede vind uitstel.
Met meer vra as antwoorde en min verstaan word elke dag ʼn nuwe begin.
Met die twyfel dat daar ʼn einde was en tyd en verlange jou dit laat besef en glo.
Wat was is verby, more is genade en vandag is net nou.
Biddend smekend en soms kwaad vra ons God hoekom en waarom.
Sal ons ooit verstaan, sal ons ooit verstaan?
Hoe is dit dan dat God ons net so los met soveel wonder en soeke, hoe kan dit genade en omgee wees?
Wat is die punt van dit alles as ons menswees tydelik en verganklik is, binne die realm van tyd waar net God alles bepaal?
Juis omdat God liefde is en die skepping tydelik is, is ons finale bestemming by Hom.
Waar ons mekaar weer sal vind en die lig van God se ewige vrede en liefde sal vind en saam sal deel.
Waar genesing nie meer nodig is nie.
Waar seer en hartseer nie meer ʼn emosie is nie.
Waar antwoorde op al ons vrae nie meer saak maak nie.
Waar Verlange nie meer bestaan nie…….