Wie is Wat?
Ek lees, sien en beleef om my die ongelooflike hoeveelheid afguns, jaloesie en konflik wat daar deesdae tussen mense heers.
Eenvoudig asof niemand meer die son oor ʼn ander sien skyn nie.
Vroeër het mense mekaar die son en die reën gegun, vandag is dit ʼn kwessie van storms.
Het afguns en jaloesie ʼn stukkie voeding vir ʼn donker hart en besoedelde siel geword?
Dit het deesdae so maklik geword vir elkeen om hom of haarself op ʼn emosionele eiland te plaas.
Soms as ʼn individu, twee mense in ʼn verhouding of selfs as n gesin.
Elkeen se eie volmaakte stukkie wêreld sonder foute en tekortkominge, sonder vensters van glas en ʼn tuin vol klippe.
Waar net daai persoon of dan nou persone die reëls van oorlewing en leef verstaan.
Ons as mense word al hoe meer selfgesentreerd en in ʼn mate emosioneel selfsugtig.
Ons raak en is gereeld blind vir ons eie foute en leef met ʼn onophoudelike selfveronskuldiging vir alles wat gebeur.
Sonder wete of werklike besef kan sommige mense oor niks anders praat as ander se foute, tekortkominge en doen en late nie.
Dit is ongelooflik om te besef hoe vriende en families soms so min of geen lojaliteit teenoor mekaar het nie.
Woorde soos, ons dink aan julle, is lief vir julle, bid vir julle ens is net woorde.
Die regte ding om te sê.
Mense sal minute voor iemand se aankoms van hul skinder en vir ure na hul vertrek aanhou.
Dit voel vir my dat ons as mense net omgee as ons voel ons het ʼn omgee dag, as ons voel omgee is vandag die regte ding om te doen.
More is weer ʼn afguns, jaloesie en skinder dag.
Vir een of ander onverklaarbare rede glo ons soms werklik dat ons ander se situasies, optredes, gevoelens en emosies ken en verstaan.
Tog het die kompleksiteite van ons eie menswees ons vasgevang in ʼn kokon van onverstaanbaarheid.
Dikwels verstaan ons nie eers ons eie emosies, optredes of dit wat ons deurgaan nie.
Dikwels sonder feite, kennis of begrip sal ons kritiseer en afbreek.
Waar laat dit alles ons, ek is self nie seker nie.
Wat ek wel weet en besef is dat ons almal net mense is, feilbaar en soms gevul met die donker van die lewe.
Miskien lê die antwoord daarin dat elkeen van ons by onself moet begin en daai wag voor ons mond toelaat om sy werk te doen.
Twee ore, een mond, miskien meer luister en seker maak wat ons hoor voor ons doen en praat.